‘n Kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke saam met Riana Scheepers

Vol bespreek

Oorsig

Verras jouself! Almal het ‘n storie om te vertel. Ontgin jou verborge talent as skrywer, verteller, filosoof, kritikus of kok…of net as waarnemer en waardeerder van die skoonheid van La Creuzette. Gedurende die kursus word opwindende en uiteenlopende reeks letterkundige tekste onder die bekwame leiding van Dr. Riana Scheepers ondersoek. Spesiale aandag word aan kursusgangers se individuele skrywerspotensiaal gegee. Klasse in die kulinêre kuns word ook gedurende hierdie kursus aangebied.


Koste Uiteensetting

La Creuzette se spesiale programme word noukeurig saamgestel om te verseker dat jy die ultieme, moeitevrye luukse vakansie-ervaring het. Ons allesomvattende pakket beteken dat alles behalwe vlugte, trein kaartjies, Schengen-visa en persoonlike uitgawes, as volg ingesluit word:

  • €2 950 per persoon wat deel
  • Vervoer van Châteauroux trein stasie na La Creuzette die 26ste Mei
  • Luukse verblyf met alle etes en drankies by La Creuzette en restaurante
  • Die skryfkursus. Vir diegene wat nie aan die skryfskool wil deelneem nie, is daar kookdemonstrasies en ander ekskursies.
  • Alle ekskursies (bv. kastele, markte, tuine) asook alle toegangsfooie
  • ‘n Kreatiewe sessie in die kunsateljee
  • Vervoer na Châteauroux trein stasie aan die einde van die week by La Creuzette


'n Nie-terugbetaalbare deposito van €1000 verseker jou bespreking met die balans verskuldig op of voor jou aankoms by La Creuzette. 'n Ekstra bedrag van €600 vir die week geld vir enkel verblyf.


Program

Dag 1 (Sondag, 26 Mei)

Gaste word tussen 12:00 en 13:00 by Châteauroux trein stasie af gehaal. Ons stop vir middagete by die alombekende l'Escale restaurant. Hierdie vragmotorstop is die oorsprong van die Michelin publikasie en stertoekennings vir kulinêre voortreflikheid. By bestemming geniet ons middagtee, óf koffie, en mignardises (ʼn smaaklike Franse fyngebak). Ons maak tyd om ons koffers uit te pak en die La Creuzette landgoed te verken. Om 19:30 ontmoet ons vir sjampanje in die sitkamer van die somerhuis. Daarna volg aandete wat deur u gashere voorberei is.


Dag 2 (Maandag, 27 Mei)

Ontbyt word om 09:00 bedien en na ontbyt begin ons 10:00 in die skryfkamer met ons oggendsessie. Die gaste wat nie skryf nie, sal vir Hardy om 10:00 in die somerkombuis ontmoet vir ‘n oggend-kooksessie met die fokus op basiese molekulêre gastronomie-tegnieke. Middagete word geniet in die tuin voor die somerkombuis. Die skrywers se middagsessie vervolg na middagete en die ander gaste gaan op ‘n eksursie na nabygeleë Montlucon. Ons loop deur die pragtige middeleeuse deel van die dorp en besoek ons beste wynhandelaar vir ‘n wynproe. Daar sal ook tyd wees om by die winkels in te loer voor ons terugkeer na La Creuzette. Vanaand ontmoet ons in die somerkombuis vir drankies en kan almal deelneem aan die kookdemonstrasie en voorbereiding vir aandete.

​Dag 3 (Dinsdag, 28 Mei)

Vanoggend is daar ‘n skryfsessie tot 13:00, waarna ons vertrek op ‘n uitstappie na Pierres Jaumatres. Daar gaan ons ‘n piekniek geniet met ‘n beeldskone uitsig op die Creuse- area. Die res van die middag is oop om rond te loop by die historiese klippe en op ‘n piekniek kombers onder die bome te lê.

Hardy en die gaste wat nie skryf nie, besoek vandag die historiese dorp, Aubusson, waar die wêreldbekende tapisserieë en matte sedert die 15de eeu geweef word. Ons besoek die splinternuwe Cité de la Tapisserie waar ons die indrukwekkende uitstalling van wandtapyte uit verskeie eeue sien. Daarna geniet ons middagete by Bistrot Gourmand op die Terrade brug. Om 14:00 ontmoet ons mekaar weer by Mme Chirac se antiekwinkel aan die oewer van die rivier. Chantel Chirac is bekend vir haar kundige herstel van carton (tapisseriepatrone). Ons besoek haar ateljee, waar 'n groot verskeidenheid carton te koop aangebied word voor ons terugkeer na La Creuzette. Vanaand het ons ‘n gas-sjef wat vir ons ‘n kook-demonstrasie doen, gevolg deur aandete.


Dag 4 (Woensdag, 29 Mei)

Na ontbyt begin die skrywers se oggendsessie om 10:00. Vir die gaste wat nie skryf nie, is daar ‘n besoek aan die 15de eeu Château de Boussac. Dié kasteel is vol wonderlike antieke meubels, wandtapyte en boeiende stories en legendes. Na middagete by La Creuzette, ry ons almal na die tuine van Notre Dame D’Orsan waar ons vir die middag deur die lieflike tuine wandel. Aandete by La Creuzette.

Dag 5 (Donderdag, 30 Mei)

Vandag is mark-dag in Boussac. Na ontbyt stap ons by die agterhek uit tot in die middedorp om die tipiese Franse markstalletjies te besigtig. Hier word alles, van geurige seep van Marseille tot lewendige hoenders verkwansel. Ons stap vir ‘n uur of wat deur die mark, waarna die oggend se skryfsessie om 10:30 sal begin. Die gaste wat nie skryf nie, ontwerp ter plaatse ʼn smaaklike spyskaart vir ons middagete wat om die lang kliptafel voor die La Creuzette-somerkombuis bedien word. Na middagete spandeer ons almal ‘n paar uur saam met Louis aan 'n kreatiewe projek buite rondom die klip tafel. Aandete (‘n lekker verrassing) is by La Creuzette.

Dag 6 (Dinsdag, 26 Junie)

Vanoggend geniet ons ‘n rustige ontbyt. Na ontbyt pak ons die bagasie in die bussie en ry ons almal na Nohant waar die skryfster George Sand gewoon het. ‘n Toer van haar herehuis en tuin is op die program voor ons verder ry na Châteauroux waar ons sneltrein na Parys wag.

Let wel dat hierdie program moontelik aangepas kan word en aktiwiteite omgeruil of vervang kan word om diensverskaffers en die weer te akkommodeer.

Terms and Conditions apply

09 juil. 2024 - 14 juil. 2024

€ 2950 per persoon wat deel

  • Vervoer van Châteauroux trein stasie na La Creuzette
  • Luukse verblyf (gedeelde akkommodasie) met alle etes en drankies by La Creuzette en restaurante. (Let wel: Enkelkamers is beskikbaar teen ‘n bybetaling van €600 vir die week).
  • Die skryfkursus. Vir diegene wat nie aan die skryfskool wil deelneem nie, is daar kookdemonstrasies en ander ekskursies.
  • Alle ekskursies (bv. kastele, markte, tuine) asook alle toegangsfooie
  • ‘n Kreatiewe sessie in die kunsateljee of in die tuin
  • Alle Bastille-feesvieringe en musiek konsert
  • Vervoer na Châteauroux trein stasie aan die einde van die week by La Creuzette

Reserve maintenant