‘n Kreatiewe Franse vakansie saam met Dr. Riana Scheepers

Nou oop vir besprekings

Oorsig

Château La Creuzette is ‘n beeldskone bestemming in die Franse platteland. Dit is ‘n geskiedkundige Napoleon III gebou omring deur ‘n park met eeu-oue seder- en eike- bome. Boussac en sy pastorale omgewing spog met literêre figure uit die Franse geskiedenis, soos Georges Sand, Alexandre Dumas Jnr. en Antoine Saint-Exupéry.

Geniet die baie spesiale Franse Bastille- feesvieringe en kuier ‘n hond uit ‘n bos saam met Riana. Elke aand is ‘n hoogtepunt om die sierlike feestafels van La Creuzette wanneer tekste en gedigte voorgelees word. Daar word stories en staaltjies vertel en skeppende versugtinge gedeel. Kreatiwiteit en ‘la belle vie’ op sy beste.

- Kursusgangers word bekend gestel aan voortreflike tekste en films in ’n groot verskeidenheid van genres.

- Ons poog om die natuurlike kreatiewe energie van elke kursusganger te ontwikkel deur blootstelling aan uiteenlopende kunsvorme.

- Begeleiding van die kursusgangers se individuele projekte.

- Mini-meesterklasse in die kortverhaal en romankuns.


Koste Uiteensetting

La Creuzette se spesiale programme word noukeurig saamgestel om te verseker dat jy die ultieme, moeitevrye luukse vakansie-ervaring het. Ons allesomvattende pakket beteken dat alles behalwe vlugte, trein kaartjies tussen Parys en Châteauroux, Schengen-visa en persoonlike uitgawes, as volg ingesluit word:

  • €3 400 per persoon wat deel
  • Vervoer van Châteauroux trein stasie na La Creuzette die 9de Julie
  • Luukse verblyf (gedeelde akkommodasie) met alle etes en drankies by La Creuzette en restaurante.
  • Die skryfkursus. Vir diegene wat nie aan die skryfskool wil deelneem nie, is daar kookdemonstrasies en ander ekskursies.
  • Alle ekskursies (bv. kastele, markte, tuine) asook alle toegangsfooie
  • ‘n Kreatiewe sessie in die kunsateljee of in die tuin
  • Alle Bastille feesvieringe en musiek konsert
  • Vervoer na Châteauroux trein stasie aan die einde van die week by La Creuzette


'n Nie-terugbetaalbare deposito van €1000 verseker jou bespreking met die balans verskuldig op of voor jou aankoms by La Creuzette. 'n Ekstra bedrag van €650 vir die week geld vir enkel verblyf.


Program

Dag 1 (Dinsdag, 9 Julie)

Gaste word tussen 12:00 en 13:00 by Châteauroux trein stasie af gehaal. Ons stop vir middagete by die alombekende l'Escale restaurant. Hierdie vragmotorstop is die oorsprong van die Michelin publikasie se stertoekennings vir kulinêre voortreflikheid. By La Creuzette geniet ons middagtee, óf koffie, en macarons. Ons het genoeg tyd om ons koffers uit te pak en die pragtige eiendom te verken. Om 19:30 ontmoet ons vir sjampanje in die somerhuis. Daarna volg ‘n heerlike 4-gereg aandete.


Dag 2 (Woensdag, 10 Julie)

Ontbyt word om 09:00 bedien in die eetkamer op die grondvloer. Om 10:00 begin die oggendsessie in die skryfkamer. Die gaste wat nie skryf nie ontmoet vir Hardy in die somerkombuis vir ‘n spesiale kooksessie met die fokus op basiese molekulêre gastronomie-tegnieke. Middagete word in die tuin voor die somerkombuis geniet. Vanmiddag is daar ‘n keuse tussen twee uitstapies, ‘n kulturele uitstappie na die historiese dorp, Aubusson, waar wêreldbekende tapisserieë en matte sedert die 15de eeu geweef word of ‘n aktiewe natuuruitstappie na die Reserve Naturelle Nationale de L’Etang des Landes waar ‘n stap paadjie met voëlkykpunte om ‘n reuse dam ontwerp is. In Aubusson besoek ons die nuwe Cité de la Tapisserie waar ons die indrukwekkende uitstalling van wandtapyte uit verskeie eeue besigtig. Ons loer ook in by Mme Chirac se antiekwinkel, waar 'n groot verskeidenheid carton (tapisseriepatrone) te koop aangebied word, asook by 'n tapisserie-restoureerder se ateljee. Die gaste wat die aktiewe ekskursie verkies na die natuurlike reservaat, gaan op ‘n 7km staptog rondom die beeldskone dam L’Etang des Landes. Hier is ‘n verskeidenheid van meer as 240 voël spesies te sien en rondom die dam is daar vier verskillende uitkyk punte wat baie kreatief gebou is om die beste aanskou te hê van die voëls op die dam. Ons dra natuurlik vêrkuikers saam vir die voëlkyk liefhebbers en alle informasie oor die spesies word verskaf by die uitkyk punte. Vanaand ontmoet ons in die somerkombuis vir drankies waar almal kan deelneem aan die kookdemonstrasie en voorbereiding vir aandete.

​Dag 3 (Donderdag, 11 Julie)

Vandag is mark-dag in Boussac. Na ontbyt stap ons deur die dorp om die tipiese Franse markstalletjies te besigtig. Hier word ‘n wonderlike verskeidenheid van plaaslike produkte verkoop en ‘n paar van die stalletjies bevat oulike geskenke om saam te vat huis toe. Ons maak ook ‘n draai by van die nuwe konsep-winkels in die dorp. Die skrywers keer terug om 10:30 vir hulle oggendsessie saam met Riana. Die res van die gaste, ontwerp ’n smaaklike spyskaart met al die vars produkte wat ons op die mark gekoop het. Ons geniet middagete met ‘n heerlike vars rosé van Provence om die lang kliptafel voor die La Creuzette-somerkombuis. Na middagete, besoek ons almal die tuine van Notre Dame D’Orsan, wat as inspirasie vir Babylonstoren buite Franschhoek gedien het. Ons wandel rustig deur die merkwaardige tuin en hulle tuin winkel met die mooiste tuin gereedskap en dekorasies. Later keer ons terug na La Creuzette vir drankies gevolg deur aandete.

Dag 4 (Vrydag, 12 Julie)

Ons geniet ‘n heerlike ontbyt en na ontbyt vertrek die skrywers op ‘n spesiale staptog na die Pierres Jaumatres. Die raar versameling pre-historiese klippe sluit ‘n dolmen en menhir opstapeling in. Ons stap van onder af om die dolmen van naby te besigtig en ons eindig op die kruin van die Mont Barlot waar ‘n beeldskone uitsig oor die Creuse area gesien kan word. Georges Sand en Chopin het dikwels daar piekniek gemaak. Vanoggend se skryfsessie vind dus in die buitelig plaas met ‘n beeldskone uitsig. Die gaste wat nie skryf nie gaan vanoggend op ‘n ekskursie na die Boussac Kasteel. Dié kasteel is vol wonderlike antieke meubels, wandtapyte en boeiende stories en legendes. Later sluit ons by die skrywers aan by Pierres Jaumatre en ons maak self piekniek waar ons ‘n mooi uitsig kan geniet. Na middagete ry ons almal na Nohant waar ons die huis van George Sand besoek. ‘n Toer van haar herehuis en die beeldskone tuin is op die program. Vanaand ontmoet ons in die sitkamer van die château vir ‘n privaat klassieke musiek konsert. Aandete volg in die sitkamer van die somerhuis.


Dag 5 (Saterdag, 13 Julie)

Na ontbyt, ontmoet die skrywers in die skryfkamer vir die laaste skryfsessie. Middagete word geniet onder die enorme plataan boom voor die somerkombuis. Die gaste wat nie skryf nie gaan saam met Hardy op ‘n uitstappie na Montlucon waar hulle weeklikse markdag plaasvind in die ou middeleeuse deel van die dorp. Daar is ook tyd om by verskeie winkels aan te gaan. Ons stop by Cave Saint Pierre vir 'n wynproe van verskeie wonderlike Franse wyne. Michel is 'n fynproewer en met sy hulp kan jy 'n paar spesiale wyne vind om saam te neem huis toe. Ons geniet 'n tradisionele Franse middagete saam met ons wynproe. Na middagete verkeer ons terug na La Creuzette en spandeer ons almal ‘n paar uur in die kunsateljee waar ons aan ‘n kreatiewe projek vir die aand sal werk. Vanaand vier ons La Fete Nationale (Bastille-dag) met 'n betowerende aandete in die park van La Creuzette. Na 'n sjampanje-apéritief sit ons aan vir 'n langtafel-ete in die tuin voor die kasteel. Later geniet ons 'n pre-Bastille-dag verrassing

Dag 6 (Sondag, 14 Julie)

Bastille Dag! Vanoggend geniet ons ‘n rustige ontbyt by La Creuzette. Ons laai die tasse en oppad na Chateauroux stop ons by La Chatre vir hulle jaarlikse Bastille brocante (antieke flooimark). Ons spandeer tyd by die brocante en geniet die patriotiese Bastille-atmosfeer. As ons gelukkig is, kry ons dalk 'n paar pragtige antieke silwerware, geborduurde Franse linne, en porselein van Limoges teen 'n winskoop. Laat oggend vertrek ons na Châteauroux waar die sneltrein na Parys op ons wag.

Let wel dat hierdie program moontelik aangepas kan word en aktiwiteite omgeruil of vervang kan word om diensverskaffers en die weer te akkommodeer.


Terms and Conditions apply

09 Jul 2024 - 14 Jul 2024

€ 3400 per persoon wat deel

  • Vervoer van Châteauroux trein stasie na La Creuzette
  • Luukse verblyf (gedeelde akkommodasie) met alle etes en drankies by La Creuzette en restaurante. (Let wel: Enkelkamers is beskikbaar teen ‘n bybetaling van €600 vir die week).
  • Die skryfkursus. Vir diegene wat nie aan die skryfskool wil deelneem nie, is daar kookdemonstrasies en ander ekskursies.
  • Alle ekskursies (bv. kastele, markte, tuine) asook alle toegangsfooie
  • ‘n Kreatiewe sessie in die kunsateljee of in die tuin
  • Alle Bastille feesvieringe en musiek konsert
  • Vervoer na Châteauroux trein stasie aan die einde van die week by La Creuzette

Book Now